Beleid oor bullebakkery en kuberbullebakkery

Beleid oor bullebakkery en kuberbullebakkery

  1. Inleiding

Hierdie dokument is die beleid oor bullebakkery en kuberbullebakkery van Vaalpark Primêre skool wat die skoolbeheerliggaam op 12 September 2013 goedgekeur het. Die beleid is opgestel ooreenkomstig die bepalings van die Grondwet van Suid-Afrika, 1996; die Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996 (‘die Skolewet’); die Wet op Nasionale Onderwysbeleid 27 van 1996; toepaslike provinsiale wetgewing oor skoolonderwys; die Wet op Beskerming teen Teistering 17 van 2011; die Wysigingswet op die Strafreg (Seksuele Misdrywe en Verwante Aangeleenthede), 2007, die Verenigde Nasies se Konvensie oor die Regte van die Kind, 1989 en die Kinderwet 38/2005.

Alle leerders is geregtig om skool te gaan in ’n openbare skool wat ’n veilige en geborge leeromgewing daarstel. Vaalpark Primêre skool is voornemens om alle leerders van ’n billike leergeleentheid te voorsien. Daarvoor het die skool ’n beduidende belang daarby om ’n veilige, ordelike en beleefde skoolomgewing te skep wat onderrig en leer bevorder.

Bullebakkery is nadelig vir die skoolomgewing en leerders se leer, prestasie en welstand. Dit meng in met die missie van die skool om leerders te onderrig, en ontwrig skoolbedrywighede. Bullebakkery raak nie net die leerders teen wie dit gerig word nie, maar ook diegene wat aan sodanige gedrag deelneem of dit aanskou. Dit moet dus die hoof gebied word om leerderveiligheid en ’n inklusiewe leeromgewing te verseker.

  1. Woordomskrywing

Afpersing is wanneer ’n persoon onregmatig en opsetlik een of ander materiële of niemateriële voordeel van ’n ander bekom deur daardie persoon aan druk te onderwerp wat hom/haar dwing om die voordeel af te staan.

Bullebakkery beteken die stelselmatige en aanhoudende oplegging van fisiese pyn of sielkundige nood aan een of meer leerders, opvoeders, nie-opvoeders of besoekers aan die skoolperseel. Dit word voorts omskryf as onwelkome en herhaalde skriftelike, verbale of fisiese gedrag, met inbegrip van enige dreigende, beledigende of vernederende gebaar, deur ’n leerder of volwassene, wat ernstig of omvattend genoeg is om ’n intimiderende, vyandige of aanstootlike opvoedkundige omgewing te skep, ongemak of vernedering te veroorsaak, of op onredelike wyse met die leerder se skoolprestasie of -deelname in te meng, en kan onder meer insluit: 

  • tergery;
  • sosiale uitsluiting;
  • dreigemente;
  • intimidasie;
  • bekruipery;
  • fisiese geweld;
  • diefstal;
  • seksuele, godsdienstige of rasseteistering;
  • openbare vernedering; en
  • die vernietiging van eiendom.

Crimen iniuria beteken die onregmatige, opsetlike en ernstige skending van ’n ander persoon se waardigheid of privaatheid.

Elektroniese kommunikasie beteken enige kommunikasie deur ’n elektroniese toestel, wat onder meer insluit ’n telefoon, selfoon, rekenaar of roepradio, welke kommunikasie onder meer insluit e-pos, kitsboodskappe, teksboodskappe, blogs, selfone, roepradio’s, aanlynspeletjies en webtuistes.

Kuberbullebakkery beteken bullebakkery met behulp van tegnologie of enige elektroniese kommunikasie, wat onder meer insluit die versending van tekens, seine, geskrifte, beelde, klanke, data of intelligensie van enige aard deur middel van enige elektroniese toestel, wat onder meer insluit ’n rekenaar, telefoon, selfoon, teksboodskaptoestel en persoonlike digitale assistent.

Voorbeelde van gedrag wat kuberbullebakkery kan uitmaak, sluit onder meer in:

  • die publikasie van lelike aanmerkings of gerugte of enige lasterlike, onakkurate, verkleinerende, gewelddadige, neerhalende, aanstootlike of seksueel gerigte materiaal oor ’n leerder op ’n webtuiste of ’n ander aanlyntoepassing;
  • die publikasie van misleidende of vervalste foto’s of digitale videomateriaal van ’n leerder op webtuistes, of die skep van vals webtuistes of sosiale netwerkprofiele asof dit die slagoffer s’n is;
  • die nabootsing of voorstelling van ’n ander leerder deur daardie ander leerder se elektroniese toestel of rekening te gebruik om e-pos, teksboodskappe en kitsboodskappe te stuur of foonoproepe te maak;
  • die versending van e-pos, teksboodskappe of kitsboodskappe of die laat van stemboodskappe wat gemeen of dreigend is, of so oorvloedig is dat dit die slagoffer se e-posrekening, kitsboodskaprekening of selfoon bombardeer; en
  • die gebruik van ’n kamerafoon of digitale videokamera om beskamende of seksgebaseerde foto’s van ander leerders te neem en/of te stuur.

Seksboodskappe is kaal of halfkaal foto’s of video’s en/of seksueel suggestiewe boodskappe wat met behulp van selfone of kitsboodskappe na en van ander leerders gestuur word.

Strafregtelike naamskending beteken die onregmatige en opsetlike publikasie van ’n aangeleentheid met betrekking tot iemand anders wat daarop uit is om daardie persoon se reputasie ernstige skade aan te doen.

Teistering beteken die direkte of indirekte deelname aan gedrag wat die pleger weet of behoort te weet:

  • skade doen, of die redelike oortuiging laat posvat dat skade gedoen kan word, aan die klaer of ’n verwante persoon, deur op onredelike wyse:
  • die klaer of ’n verwante persoon te agtervolg, dop te hou of by te dam, of buite of naby die gebou of plek rond te hang waar die klaer of ’n verwante persoon woon, werk, sake doen, studeer of toevallig is;
  • verbaal, elektronies of op enige ander wyse en deur middel van enige ander middel met die klaer of ’n verwante persoon te probeer kommunikeer, ongeag of ’n gesprek gevoer word of nie; of
  • briewe, telegramme, pakkies, fakse, e-pos of ander voorwerpe aan die klaer of ’n verwante persoon te stuur, daar af te lewer of te laat aflewer, of sodanige items daar te laat waar dit gevind sal word deur, oorhandig sal word aan of onder die aandag sal kom van die klaer of ’n verwante persoon; of
  • op die seksuele teistering van die klaer of ’n verwante persoon neerkom.

Vergelding is ’n handeling of gebaar teen ’n persoon wat bullebakkery of beweerde bullebakkery aanmeld. ‘Vergelding’ sluit ook in die aanmelding van bullebakkery wanneer dit nié te goeder trou gedoen word nie.

3.         Toepassing

3.1       Hierdie beleid geld vir enige leerder, opvoeder en nie-opvoeder by die skool sowel as enige besoeker of vrywilliger wat gedrag openbaar wat op bullebakkery, kuberbullebakkery of vergelding neerkom. Ál voormelde persone is verantwoordelik om aan hierdie beleid te voldoen.

3.2       Hierdie beleid geld vir bullebakkery wat:

3.2.1    plaasvind by die skool of op die skoolterrein, synde ’n skoolgebou; op die eiendom waarop ’n skoolgebou of -fasiliteit geleë is, en op/in eiendom wat ’n skool vir ’n skoolgeborgde aktiwiteit, geleentheid, program, onderrig of opleiding besit, huur of gebruik, en ‘skoolterrein’ sluit ook voertuie in wat vir skoolverwante vervoer gebruik word;

3.2.2    plaasvind terwyl leerders na of van skole of skoolgeborgde geleenthede vervoer word;

3.2.3    plaasvind by enige skoolgeborgde geleentheid, aktiwiteit, program, onderrig of opleiding;

3.2.4    plaasvind deur die gebruik van data, telefone, rekenaarsagteware of tegnologie wat deur ’n rekenaar, rekenaarstelsel of rekenaarnetwerk van die skool bekom word; of

3.2.5    elders plaasvind, maar slegs indien die bullebakkery ook die regte van die leerder by die skool skend of indien die skool self op enige manier betrokke is of betrek word.

 

4.         Verbode aktiwiteite of gedrag

  • Die volgende gedrag is verbode:
    • Bullebakkery
    • Kuberbullebakkery
    • Teistering
    • Vergelding teen enigeen wat sodanig omskrewe gedrag aanmeld
    • Vals beskuldigings van bullebakkery
    • Skending van die skool se goeie naam

Enigeen wat enige van hierdie verbode gedrag openbaar, sal die gevolge daarvan moet dra.

4.2       Wat kuberbullebakkery betref, kom die volgende handelinge sowel as teistering en seksboodskappe op strafregtelike oortredings neer en sal dus ook as wangedrag ingevolge die skool se gedragskode beskou word:

  • Crimen iniuria – Enige handeling wat die waardigheid van ’n ander persoon aantas, wat ook kan plaasvind deur aan iemand anders ’n boodskap te stuur wat hetsy ’n uitdruklike of implisiete uitnodiging tot, of voorstel van, seksuele immoraliteit of onbetaamlikheid bevat, of deur onwelvoeglike foto’s te versend.
  • Strafregtelike naamskending – Lasterlike aanmerkings teenoor derde partye in kletskamers, op sosiale netwerke, of in e-posse, teksboodskappe of kitsboodskappe is onder meer vorme van kuberbullebakkery.
  • Afpersing – Waar ’n persoon opsetlik en onregmatig dreig om inligting oor, of kompromitterende beelde van, ’n ander persoon elektronies te versprei.

5.         Aanmelding

5.1       Bullebakkery, vermoedelike bullebakkery of enige ander verbode handeling ingevolge paragraaf 4.1 hierbo kan persoonlik of skriftelik by skoolpersoneel aangemeld word. Enige persoon wat bewus is van enige bullebakkery, vermoedelike bullebakkery of enige ander verbode handeling ingevolge paragraaf 4.1 moet sodanige voorvalle by die skoolhoof of ander personeellid wat deur die hoof aangewys word, aanmeld.

5.2      Indien enigeen kuberbullebakkery vermoed of daarvan ingelig word, moet die volgende protokol gevolg word:

Selfone

  • Vra die leerder om die betrokke selfoon aan jou te wys.
  • Let deeglik op alles op die skerm wat met ’n onvanpaste teksboodskap of beeld verband hou, wat die datum, tyd en name insluit.
  • Transkribeer ’n stemboodskap en teken weer die datum, tye en name aan.
  • Gee die leerder opdrag om die boodskap/beeld te stoor.
  • Vergesel die leerder na die skoolhoof of sy/haar gedelegeerde.

Rekenaars

  • Vra die leerder om die betrokke materiaal op die skerm te vertoon.
  • Vra die leerder om die materiaal te stoor.
  • Druk onmiddellik die aanstootlike materiaal uit.
  • Maak seker dat jy alle bladsye en inligting in die regte volgorde het, en dat niks weggelaat word nie.
  • Vergesel die leerder na die skoolhoof of sy/haar gedelegeerde, en neem die aanstootlike materiaal saam.
  • Gewone prosedures word dan gevolg om onderhoude met leerders te voer en verklarings af te neem.

5.3       Ouers en ander volwassenes wat van voorvalle van bullebakkery bewus is, word aangemoedig om hierdie gedrag by ’n personeellid aan te meld. 

5.4       Alle ander lede van die skoolgemeenskap, wat leerders, ouers/voogde, vrywilligers en besoekers insluit, word aangemoedig om enige handeling wat hierdie beleid oortree, hetsy persoonlik of naamloos by die skoolhoof of sy/haar gedelegeerde aan te meld.

5.5       Weerwraak of vergelding teen enigeen wat ’n voorval van bullebakkery aanmeld, is verbode. Indien daar vasgestel word dat ’n leerder iemand anders valslik van bullebakkery beskuldig het, sal sodanige leerder die dissiplinêre gevolge moet dra.

5.6       Ingevolge artikel 54 van die Wysigingswet op die Strafreg (Seksuele Misdrywe en Verwante Aangeleenthede), 2007, moet enigeen wat van ’n seksuele oortreding teen ’n kind kennis dra sodanige inligting onmiddellik by ’n polisiebeampte aanmeld. Versuim om sodanige inligting aan te meld is ’n misdryf. Dus is enigeen wat betrokke is by seksboodskappe of seksuele teistering, of wat van sodanige handelinge bewus is, verplig om dit aan te meld.

5.7       In geval van ’n skending van enige bepaling in hierdie beleid moet die dissiplinêre prosedure ingevolge deel 3, artikel 2 tot 5, van die skool se gedragskode gevolg word.

Alternatiewe dissiplinêre maatreëls sluit onder meer in:

  • ’n ontmoeting met die leerder en die leerder se ouers;
  • besinningsaktiwiteite, soos om die leerder opdrag te gee om ’n opstel oor sy/haar wangedrag te skryf;
  • berading;
  • woedebestuur;
  • gesondheidsvoorligting of -intervensie;
  • geestesgesondheidsvoorligting;
  • deelname aan vaardigheidsbou- en geskilbeslegtingsaktiwiteite, soos sosiaal-emosionele kognitiewe vaardigheidsbou, beslegtingskringe en herstelkonferensies;
  • gemeenskapsdiens; en
  • interne detensie of skorsing, wat in middagete, ná skool of oor naweke kan geskied.

 

6.         Wysiging van beleid

Die skoolbeheerliggaam kan hierdie beleid van tyd tot tyd wysig, aanvul, aanpas of verander.

Contact Information

Kontakinligting 

Tel:  (016) 971 2012
admin@vaalparkprim.co.za

© 2023 - Vaalpark Primary

Hosted by

Griffin Internet Services